Sondag ~ 21 Julie: Tannie Miena

Hierdie storie het deur my kop gemaal vanoggend en ek kon dit nie vergeet nie. Natuurlik is Tannie Miena net ‘n karakter wat ek uitgedink het om hierdie storie te skryf. Hierdie storie is wel gegrond op ervarings. Ek gaan byna elke Sondag Spar toe net so om die draai van ons na Kerk. Ek koop wat ek nodig het, wat soms kom met iets lekkers om aan te knibbel wanneer ek flieks of Netflix kyk. Als dit gebeur net na Kerk.

Die res van die storie het gekom as ‘n idee, of as ‘n les. Ons sien elke dag vreemde mense, maar ons ken die storie agter hul gesigte nie. Ons almal is lief daarvoor om te oordeel, maar ons het geen idee van die persoon se hartseer of lyding nie. Ons moet nooit oordeel nie, veral as ons die persoon van geen kant af ken nie.

Yolandi Serfontein

Tannie Miena woon in ‘n klein dorpie diep in die Karoo saam met haar man, wat nou vir meer as vyftien jaar al afgetree is. Haar kinders het almal stad toe getrek en sy sien hulle net een keer per jaar met Kersfees en nuwe jaar. Tannie Mina en haar man is al in hul sestigs, gaan elke Sondag kerk in hul Sondag beste, dien die Here en leer van vergifnis. Elke Sondag.

Sondag na kerk gaan Tannie Miena ook na die dorpie se Spar toe om die nodige bestanddele te koop vir ‘n nuwe resep wat sy in die Rooi Rose gesien ‘n week of twee gelede gesien het. Dit is sommer net vir nagereg. Elke Sondag middag het sy en oom Dolf ‘n groot maaltyd. Of dit nou lampsboud is of hoender met gebraaide aartappels, boontjies, blomkool en reis, sy moet groot gaan, al is dit net vir…

View original post 1,052 more words

Advertisements

Maandag – 15 Julie 2019

Ons leef vandag in ‘n tyd waar amper niks in die lewe sin maak nie. Kom ons kyk na die wêreldbeker eindstryd tussen Engeland en Nieu Seeland gisteraand. Die Internasionale Krieketraad se reël met wie die meeste grenshoue geslaan het tydens die wedstryd die wenner bepaal kan as een groot grap beskou word, en ongelukkig beskou ek dit as een grap. Die span wat nie sal lag oor hierdie grap nie is die verloorders. Engeland sal met my stry en sê hulle het dit regverdiglik gewen, maar het hulle?

Daardie reël het geensins sin gemaak nie. Nie eens naastenby nie. Maar die lewe werk soms so. Baie dinge is nie regverdig nie. ‘n Mens voel maar magteloos hieroor. Maar dit is hoe die lewe maar is. Jy vat hom met die sagte houe en harde aanslae.

Al wat jy kan doen is om die lewe ten volle te leef, al maak dit amper nooit sin nie. Leef dit ten volle. Want die lewe is kort en kosbaar.

Sondag ~ 16 Junie

Hierdie inskrywing is opgdra aan al die Vaders en Vader figure wat hard werk om ons te maak wat ons is vandag. Die harde werk wat julle doen word nie geïgnoreer nie. Ons kan nie anders as om dankie te sê hiervoor nie want ons weet baie goed daar is mense wat daarvan sal droom om hul vaders by hulle te hê vir net een dag. My hart gaan vandag uit na die mense en hulle is in my gebede.

Vandag is ek veral dankbaar om my Pa by my te hê en die geleentheid te hê om tyd met hom te spandeer. Elke dag is ‘n geskenk en om elke dag my Pa by my te hê is ekstra spesiaal. Ek is elke dag dankbaar en het waardering vir die tyd om my Pa met my te hê.

Dankie Pa vir als wat jy gedoen het om van my die mens te maak wat ek vandag is. Ek waardeer dit opreg.

Sondag ~ 26 Mei 2019

Dit is Sondag. ‘n Dag van net rustig wees en Gilmore Girls kyk op Netflix. Dit is ook amper twee weke na my operasie en ek is goed oppad na herstel, iets wat nie eintlik so maklik was soos wat ek eers gedink het sal wees nie. Stel dit so, ek voel heelwat beter as wat ek ‘n week gevoel het nadat ek vir dae aaneen op onsoliede kos geleef het en baie geslaap het as gevolg van die swaar medikasie.

Die aand van die operasie was ek ontslaan en my ouers het my huistoe geneem en vir my gesorg. Ek was baie moeg as gevolg van die verdowingsmiddel en al wat ek wou gedoen het was om in die bed te klim. In die bed het ek my foon uitgehaal en Gilmore Girls gekyk. Vir een of ander rede kon ek glad nie daardie aand slaap nie.

Donderdag en Vrydag het ek aanhoudend geslaap en het gedurig moeg gevoel, met my Ma wat die yspak vol ys gemaak het om die swelsel om my gesig te laat sak en die ongemaklikheid ligter te maak. Ek het nie juis baie pyn gehad na die operasie nie, maar ek kon voel my liggaam het ‘n bietjie van ‘n knou weg juis omdat dit basies my eerste keer was dat ek ‘n operasie ondergaan het.

Saterdag het ek baie siek gevoel weens die medikasie en was omtrent die hele dag in die bed. Ek het baie water gedrink om die naarheid te verlig en myself van die een stel pynpille afgehaal want al wat dit goed gedoen het was om my heeltyd te laat slaap. Ek hou van slaap maar nie die hele tyd nie. Sondag was basies dieselfde gewees, maar ek het ‘n bietjie meer rondbeweeg en ‘n bietjie op my skootrekenaar gewerk. Daarna was ek moeg en het dinge weer rustig geneem.

Maandag en Dinsdag het ek baie beter gevoel, met Dinsdag wat ‘n opvolgbesoek aan die dokter gelewer het. Ek het mer soliede kossoorte geëet soos pasta wat my gunsteling is. Ek het Woensdag, ‘n week na my operasie, dinge maar rustig gevat en ‘n paar films gekyk voor ek Donderdag teruggegaan werk toe.

My herstelpad was moeilik gewees omdat ek te gou, te veel verwag het in plaas daarvan om dit net dag vir dag te vat. Dit is anders vir elke liewe mens. Ek is net dankbaar dat die operasie verby is, al was die herstelproses nie so maklik vir my was nie. En ek is ook dankbaar dat ek meer soliede kos kan eet want my gewig het ook daaronder gely. En boonop het ek my koffie gemis.

Dinge sal van nou af net makliker gaan. Ek hoop so.

Dinsdag ~ 7 Mei 2019

Vanoggend, soos met byna elke oggend, gaan ek deur my klerekas en weet nie wat ek gaan aantrek vir werk nie, veral nie dié tyd van die jaar wanneer die weer of warm of koud is nie. Dit is koud in die oggende, nog kouer in die aande, maar deur die loop van die dag is die weer mooi en redelik warm. So ek weet nie hoe om aan te trek nie.

Dit is amper ‘n goeie vergelyking met môre se verkiesing. Ons almal het 48 partye om voor te stem, maar van ons weet nie om wie voor te stem nie. Wel, dit is soos ek ook want dit is nou ‘n bietjie meer as 24 uur voor ek my kruisie trek en ek weet nie vir wie ek moet stem nie. Die regerende party is nie ‘n opsie nie.

Moet ek stem wat my hart vir my sê of moet ek stem wat my kop vir my sê? Watter politieke party gaan hard werk om ‘n groot verskil te maak in Suid-Afrika? Die feit is ek woon in die Weskaap en hier moet ons basies ons kruisies maak om die regerende party uit die provinsie te hou. Dit maak dit ook nie maklik nie.

Tyd sal leer môre vir wie ek gaan stem. En hopelik die party wie ek voor gaan stem gaan daardie verskil maak in Suid~Afrikaners se lewens en by hul beloftes hou.